Skip to content

EquaIizer / GeIykmaker  (“a thing which has an equalizing effect”)

Ons deel graag Gideon Melck se brief:


Twintig jaar gelede in ‘n Boplaas se klipstoor is groot drome gebore. Die vasberadenheid van die voorsate wat die klipstoor met passie en akkurasie moes bou, het oorgespoel na die nasate om met yster te toor. Die klippe is uitgesoek en gevorm met die hand. Elkeen met ‘n spesifieke doel in die konstruksie van die stoor. Dit was sekerlik die dryfveer vir die presisie van die planter.

Die planne by die planter se vormingsjare was soos die baie mooi are van ‘n mooi stand koring (2020 se stand koring!). Die seisoene op Boplaas was uitdagend… soms swak, soms matig, soms baie goed (die goeie jare het genadiglik die swakker jare oorskadu) en deur al hierdie seisoene het die planter hulle iets begin leer.

Moederaarde het die minimum-bewerkingsplanter in haar grand verwelkom soos die nag die Dikkop se geroep ingewag het. Die planter met sy dun tande herinner my ook aan die Dikkop se lang, dun, goudgeel bene!

Die plaas se naam “Boplaas” beteken vir die Schreuders… Bo wil hulle eindig! Die lewenslange verbintenis van ‘n steenbok-ooitjie en -rammetjie waar hul eendag afskeid neem van hul lammetjie, weerspieël in die tyd wat die Schreuders die klipstoor vaarwel moes roep.

Die baie helder liggies op ‘n donkermaan in die platteland is verruil vir die baie helder liggies van die groot Kaap en Equalizer is gebore. Gideon en sy span wou net die beste gee vir die nuwe baba: in die Kaap… naby alles… goeie sein en vinnige internet… om die groeipyne van die besonderse kind te minimaliseer. Daar is goed geluister na die planne van boere wat die behoeftes verstaan en ken. Die kind het van krag tot krag gegroei.

Vandag is daar iets te kus en keur vir elke landbouer wat volhoubaar wil boer en sy grand in ‘n beter toestand wil laat vir die nageslag. Gideon en sy span is sowaar “bo”, met die sprang van Hopefield na die Kaap en van daar die wye wêreld in.

Baie geluk met Equalizer se 20 jaar herdenking, Gideon! Jy en jou span se passie vir die bewaring van landbougrond is aansteeklik.

Gideon Melck

Scroll To Top